Taal:   Afrikaans  |  English
Gereelde vraeKlik op vraag vir antwoord

V= Die voorsitter van Hoërskool Brandwag se beheerliggaam bel u vir advies. 'n Leerder is vir twee maande uit die skoolkoshuis geskors en nou weier die ouer om die koshuisgeld te betaal. Die voorsitter deel u ook mee dat hulle geen skriftelike ooreenkoms met inwoners of ouers het nie, en dat hy ook nie bewus is van enige koshuisbeleid nie. Adviseer hom oor of die skool wél die geld sou kon invorder, en bied ook leiding oor wat die skool voortaan moet doen om hierdie situasie te voorkom.

V= Hoërskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skoolhoof het dié week twee beheerliggaamopvoeders in kennis gestel dat hulle nie meer tot die skool se bestuurspan behoort nie. Die opvoeders is briesend en het die beheerliggaam genader om die saak te hanteer. Adviseer die voorsitter oor wat hom te doen staan.

V= Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Die distriksbestuurder dreig hom met dissiplinêre stappe omdat hy sonder haar toestemming `n muur tussen twee klaskamers laat uitbreek het om die kamer vir die aanbieding van kunsklasse te vergroot. Daar is ook groot tekenborde in die klas aangebring waarop die leerders hulle kunswerk moet beoefen. Die klas móés dus vergroot word om vir die groot tekenborde vir `n klas van 35 leerders plek te maak. Die hoof is aangesê om binne 24 uur redes aan te voer waarom dissiplinêre stappe nié teen hom gedoen behoort te word nie. Die distriksbestuurder se houding is dat net sy toestemming mag gee dat strukturele veranderinge aan die skool se geboue aangebring mag word.

V= Hoërskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy het pas opdrag van die distrikskantoor ontvang om dringend die skool se bankstate aan hulle te stuur. Die Departement benodig die state om ondersoek in te stel na beweerde ongerymdhede in die provinsie se skoolvoedingsprogram. Die skoolhoof deel u mee dat die skool absoluut niks het om weg te steek nie, en dat die beheerliggaam ook `n deursigtige pad wil stap.

V= Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Brandkop het verlede jaar opvoeders met `n departementele bussie na `n departementele kursus gestuur, omdat die skool se eie bussie nie beskikbaar was nie en die kursus verpligtend. Die bussie het `n ligte stamp opgedoen wat die skool se eie, gekwalifiseerde paneelklopper vir slegs R500 kon herstel. Die Departement wou egter niks weet nie en het dit vir meer as R4 000 laat herstel, sonder dat die bussie verseker was. Hulle het nie die skool geraadpleeg nie. Nou eis hulle die geld van die opvoeder wat die bussie ten tyde van die ongeluk bestuur het en wil die geld van haar salaris aftrek. Hulle eis dat sy sekere vorms invul, en die beamptes dreig met die hof indien sy sou weier. Dit is ongelukkig nie bekend watter vorms die skool met die oog op die gebruik van die bussie ingevul het nie. Tree die Departement wederregtelik op, en wie moet die opvoeder bystaan?

V= Laerskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy kry gereeld navrae van ondernemings en instansies wat bemarkingsmateriaal by die skool wil versprei of opvoeders en ouers wil kom toespreek. Hy voel sterk dat die skool misbruik en as 'n maklike teiken vir bemarkers beskou word. Hoe moet die skool hierdie navrae hanteer?

V= Hoërskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Hulle is besig om die skool se gedragskode te hersien, en het op `n departementele omsendbrief afgekom wat die volgende bepaal: “Daar mag geen kriminele stappe deur die skool teen die leerder gedoen word ten opsigte van die besit van `n gevaarlike voorwerp of onwettige dwelm of positiewe toetsing vir `n onwettige middel nie.”

V= Hoërskool Brandkop se skoolhoof bel u vir advies. Hy vermoed dat `n aantal opvoeders bewus is van kinders wat tuis mishandel word, en ook uit hulle eie sak vir hierdie kinders kosblikke skool toe bring omdat hul huislike omstandighede bedenklik is. Hy wil seker maak dat die skool en opvoeders nie blootgestel word nie, maar wil ook nie die vertrouensverhouding tussen die leerders en opvoeders skend nie. Adviseer die skoolhoof.

V= Laerskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter stuur die volgende e-pos aan u:“Die familie van `n Moslemdogter in ons koshuis wil halaaletes aan haar voorsien. Ons het geen probleem daarmee nie en het toestemming gegee. Nou dring hulle aan op afslag op hul koshuisgeld. Die kringbestuurder en ek voel dit sal`n presedent skep: Wat dan van leerders wat gereeld huis toe gaan en nie Vrydagmiddagetes neem nie; leerders wat sommige dae etes misloop weens sport of siekte; wat verkies om op dieet te wees; ouers wat verkies om etes na leerders se smaak te maak, ensovoorts? Wat as hulle almal afslag wil hê?”

V= Laerskool Brandkop se beheerliggaamvoorsitter stuur die volgende e-pos aan u:“Ek versoek graag raad met die volgende aangeleentheid:`n Algemene werker by die skool die afgelope 14 jaar se gesondheid het in die laaste helfte van 2010 merkbaar agteruitgegaan. Einde Oktober 2010 is hy met gevorderde tuberkulose gediagnoseer. Vanaf die tweede week van November 2010 was hy te swak om te werk, en hy is sedertdien tuis. Ek twyfel of hy sal terugkom. Vir die eerste paar dae van die jaar het ons `n togwerker gehuur, omdat ons alle moontlike hulp nodig het vir die groot gras sny en klas skoonmaak.

V= Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter wil by u weet presies wat as `n skoolaktiwiteit en wat as `n buitemuurse aktiwiteit in aanmerking kom. Is daar enige verskil tussen die begrip ‘buitemuurse aktiwiteit’ en ‘buitekurrikulêre aktiwiteit’? Die skool se beheerliggaamlede verskil hieroor.

V= Laerskool Aruab se skoolhoofpos is tans vakant en is verlede week in die vakaturelys van die Departement geadverteer. Die beheerliggaam is bekommerd dat die advertensie nie noodwendig aandag sal trek nie, en wil self ook so wyd moontlik adverteer. Mag die beheerliggaam self ook die pos adverteer?

V= Laerskool Aruab se beheerliggaam het besluit om `n klub of maatskappy te stig wat busse aankoop, en hulle beplan om die busse aan die skool te verhuur. Hulle verwag dat die skoolhoof die kontrak namens die skool met hulle moet aangaan. Die skoolhoof is nie seker of hy wél die ooreenkoms mag onderteken nie. Adviseer die lid.

V= Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die nuwe beheerliggaam het pas verneem dat nie een beheerliggaampersoneellid `n dienskontrak het nie. Van hierdie personeel is reeds tien jaar in diens van die skool. Die beheerliggaam het ook aanvaar dat ál die persone jaarliks aangestel is en wil so voortgaan. Hoe moet die beheerliggaam nou te werk gaan om kontrakte te sluit?

V= Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir dringende advies. Een van die skool se onderwyseresse het pas `n klagte by die Departement ingedien omdat die beheerliggaam besluit het om haar vanaf volgende jaar as afrigter van die eerste netbalspan te vervang. Sy rig die span reeds agt jaar af en dreig elke jaar om as afrigter te bedank. Die skoolhoof het `n raadplegingsproses gevolg voordat die sportrooster en -verantwoordelikhede afgehandel is.

V= U het vanoggend die volgende e-pos van Hoërskool Aruab se skoolhoof ontvang:“My Superintendent van Onderwysbestuur skakel my Donderdag met die versoek dat ek `n leerder van Aus, wat op die punt is om vir dwelms geskors te word, tot die einde van die jaar by my skool moet inneem. Hoe meer ek sê dat ek dit nie wil doen nie, hoe mooier praat hy en sê dat dit `n departementele besluit is en die kind in `n skool moet wees. Hy het blykbaar reeds sonder sukses ál die skole in die omgewing probeer.Wat is my regte in hierdie geval? Ek weet dat indien `n kind weens `n gedragsprobleem by `n ander skool weg is, ek hom nie hoef te aanvaar nie.SKOOLHOOF”

V= Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Mev X weier om skoolgeld te betaal, omdat die egskeidingsbevel bepaal dat mnr X daarvoor verantwoordelik is. Mnr X is egter tans werkloos en doen aansoek om én ontvang vrystelling. Mev X het geen aansoek om vrystelling ingedien nie, en die skool wil haar nou vir die uitstaande skoolgeld dagvaar. Sy voer egter aan dat sy nie aanspreeklik gehou kan word nie.

V= Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is onseker of die kennisgewingtydperk vir die begrotingsvergadering na kalenderdae of skooldae verwys. Hy wil ook weet of die beheerliggaam `n volmagstem by die vergadering kan toelaat.

V= Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Daar is ses (departementele) opvoeders wat bykomende vergoeding ontvang. Twee van hierdie opvoeders neem tans aan die staking deel en lewer geen dienste nie. Hoe moet die skool die saak benader?

V= Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is besig met die begroting, en wil weet wat die stand van sake is om departementele opvoeders bykomend te vergoed.

V= Die voorsitter van Laerskool Aruab se beheerliggaam bel u vir advies. Die skool het `n prokureursbrief namens `n ouer ontvang waarin daar versoek word dat die skool afskrifte van alle finansiële en bankstate sowel as ander finansiële inligting beskikbaar stel (koste word aangebied). Die skrywe volg op die ouer versuim om om vrystelling van skoolgeld aansoek te doen sowel as om skoolgeld te betaal. Die skool se prokureur het reeds `n finale skrywe aan die ouer gestuur. Is die skool verplig om hierdie inligting beskikbaar te stel?

V= U ontvang die volgende e-pos van een van Hoërskool Aruab se ouers: “Ons seun is `n leerling aan Hoërskool Aruab. Hy is tans in graad 8. Vrydag is haarinspeksie gedoen en ons seun is aangesê om sy hare te laat sny omdat dit te lank is. Ons is van oordeel dat hy sy hare volgens `n styl van sy keuse moet kan dra. Ons is ook van mening dat die skoolreëls, veral oor seuns se hare, nie aan die Grondwet voldoen nie. Dit ontneem ons seun van sy reg op vrye uitdrukking. Hoekom mag meisies lang hare hê en nie seuns nie? Ons beroep ons ook op onlangse regspraak, riglyne in die Staatskoerant, en navorsing wat in hierdie verband gedoen is. Hierdie reël is nog nooit sedert die afskaffing van apartheid aangepas nie.

V= Hoërskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy is besig om`n konsepbegroting vir die beheerliggaam se volgende vergadering saam te stel, en is nie seker of die versekering van die skoolgeboue en -voertuie en ander korttermynversekering die skool se verantwoordelikheid is nie.

V= Die beheerliggaamvoorsitter van Laerskool Aruab bel u vir advies. Die distrikskantoor het die skool versoek om afskrifte van alle beleid van die skool na die distrikskantoor te stuur. Die beheerliggaam het die saak bespreek en is erg verdeeld oor die versoek. Die helfte weier om die dokumente te lewer, en die ander helfte is bereid om die dokumente te lewer mits die Departement die koste daarvoor sal dra. Die voorsitter wil weet of die distrikskantoor by magte is om die dokumente te versoek.

V= “Ek is `n beheerliggaamlid by Hoërskool Aruab en wonder of jul enige raad het oor die koop van spelers. Is dit wettig? Skole beweer hul koop nié, maar gee net beurse of afslag, of dat dit nie húlle is wat koop nie, maar die oudleerderklubs.

V= Laerskool Aruab se skoolhoof het `n versoek van die opvoeders en leerders ontvang om Woensdag met sokkerklere skool toe te kom en die hele dag net sokker te speel. Moet hy iewers toestemming kry?

V= Die beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Aruab bel u vir advies. Een van die beheerliggaam se lede kan nie met vertroulike inligting vertrou word nie en het die beheerliggaam reeds verskeie kere in die verleentheid gestel. Die end was toe hy wéér vertroulike inligting met `n borg van die skool gedeel het en die skool as gevolg hiervan `n borgskap kwyt is. Die voorsitter deel u mee dat die beheerliggaam borgskappe bespreek het om `n beleid daaroor op te stel en dat hulle steeds daarmee besig is. Die res van die beheerliggaam dreig om te bedank as die persoon verder bly dien, en die voorsitter wil weet hoe hierdie lid uit die beheerliggaam verwyder kan word.

V= Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die skool het `n nuwe Wiskunde-opvoeder aangestel (beheerliggaamaanstelling) om in die behoeftes van die skool te voorsien. Nou kla `n aantal ouers egter dat hierdie opvoeder ná skool teen vergoeding ekstra Wiskundeklasse aanbied. Die ouers reken dat die opvoeder `n salaris by die skool ontvang om Wiskunde te gee, en dat hulle daarom nie enige verdere geld hoef te betaal nie. Die beheerliggaamvoorsitter kan nie onthou dat die opvoeder enige toestemming gevra het om ekstra klasse by die skool aan te bied nie. Adviseer die lid.

V= Hoërskool Aruab se skoolhoof stuur die volgende e-pos aan u vir advies:“Jammer om te pla. `n Skool mag mos nie `n kind ouer as 15 toelating weier nie. As hy dan toegelaat word en hy kwalifiseer vir kwytskelding, mag die skool dit weier? Graag verneem ek of kwytskelding of gedeeltelike kwytskelding van skoolfonds vir alle leerders geld, al is hulle ouderdom van so `n aard dat hulle volgens huidige wetgewing nie meer skoolpligtig is nie.”

V= Hoërskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Die skool sukkel jaarliks om skoolgeld van geskeide ouers in te vorder. In een geval het die ma toesig oor haar drie dogters (almal in die skool), en is die pa ingevolge die egskeidingsbevel verantwoordelik om skoolgeld te betaal. Hoewel sy `n goeie inkomste verdien, weier die ma om enige skoolgeld te betaal omdat sy `n hofbevel in haar guns het. Die pa het na bewering nie `n vaste werk nie. Hoe moet die skool dié geval hanteer?

V= Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Hy het in die koerant van `n sogenaamde VGLO (“QLTC”) gelees en wil weet of die skool enigiets moet doen. Dit blyk ook dat hy nie regtig weet wat die VGLO is of behels nie. Gee kortliks terugvoer aan u lid.

V= Laerskool Aruab se skoolhoof bel u vir advies. Die skool het dié week twee verwysings van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) ontvang nadat twee van die personeellede in 2009 se kontrakte volgens die hoof nie hernu is nie. Die skool se prokureur sal die saak verder hanteer, maar die hoof wil weet hoe hy `n soortgelyke saak in die toekoms kan voorkom.

V= Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel u vir advies. Die plaaslike tak van die ANC het Vrydag met hom en die skoolhoof vergader en dring daarop aan dat 35 Engelse kinders in die skool toegelaat moet word. Die ANC-lede het dit duidelik gestel dat hulle die skool sal bestorm en oorneem as daar nie onmiddellik op hulle versoek ag geslaan word nie. Daar is ook gedreig dat beheerliggaamlede nie veilig sal wees nie. Die ANC wil eerskomende Dinsdag weer met die hele beheerliggaam vergader, en die voorsitter wil weet hoe hy die saak moet hanteer.

V= Hoërskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou baie bekommerd. Die omgewing gaan reeds `n geruime tyd gebuk onder `n tekort aan skole. Hoewel hul skool reeds stampvol is met Afrikaanssprekende leerders, ervaar hulle geweldige druk om Engelssprekende leerders toe te laat. Die beheerliggaam het die Departement telkens weggewys omdat daar letterlik nie meer oop klaskamers is nie. Die Departement het die skoolhoof Vrydag in kennis gestel dat hulle Donderdag ses opslaanklasse sal kom oprig wat dan vir die naburige oorvol Engelse skool se oorskotleerders gebruik kan word. Die beheerliggaam behoort tot FEDSAS, en weet dus wat hul regte met betrekking tot taal- en toelatingsbeleid is, maar benodig advies oor die nuwe opslaanklasse.

V= Die voorsitter van Laerskool Aruab wil die volgende by jou weet: Kan hulle skool se toelatingsbeleid gewysig word om kinders wat van ander skole kom en wie se ouers oral verseg om skoolgeld te betaal, toelating te weier? Die beheerliggaam gebruik reeds kinders se dissiplinêre rekord om aansoeke te oorweeg.

V= Hoërskool Aruab se skoolhoof bel jou vir advies. `n Groot groep ouers is ongelukkig oor bepaalde besluite wat die beheerliggaam geneem het, en het `n petisie onderteken waarin hulle die beheerliggaam versoek om onmiddellik te bedank sodat hulle vervang kan word. Die ouers versoek ook die gebruik van die skoolsaal vir `n ouervergadering wat hulle self sal reël.

V= Hoërskool Aruab se skoolhoof bel jou vir advies. Die Departement het die afgelope vier jaar `n groot aantal studiebeurse vir onderwysstudente beskikbaar gestel, en die meeste van hierdie studente het vanjaar op grond van hul beursooreenkoms by die Departement diens aanvaar. Hierdie jong opvoeders beskik oor universiteitskwalifikasies en sluit wiskundiges, wetenskaplikes en ekonome in, maar kry nêrens plasings nie. Die Departement het gevolglik `n skrywe aan alle skole gestuur waarin die skole ingelig word dat die jong opvoeders sonder enige proses by skole geplaas sal word. Die skoolhoof is onseker oor wat hom te doen staan as een van hierdie jong opvoeders dié week by sy skool opdaag.

V= Laerskool Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Meer as 35 plaaskinders in die distrik kan oënskynlik nie in enige van die twee plaasskole plek kry nie. Laerskool Aruab het tans 65 Afrikaanssprekende leerders in die skool. Die skool se geriewe het plek vir meer as 300 leerders. Wat is die skool se verantwoordelikheid teenoor hierdie leerders?

V= Hoërskool Aruab het pas as lid aangesluit. Aruab se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Die Provinsiale Onderwysdepartement het die skool ingelig dat dit vanaf Woensdag `n Engelse baan sal aanbied wanneer 24 Engelssprekende graad 8-leerders vir onderrig sal opdaag. Die distrikskantoor grond sy instruksies op die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Ermelosaak, en stel dit duidelik dat die skool nog ruimte vir leerders het en daarom die behoeftes van die gemeenskap in ag moet neem. Welke stappe moet die skool onmiddellik neem, en hoe moet die skoolhoof die saak Woensdag hanteer?

V= Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Die skoolhoof tree volgende week af en dus moet daar `n waarnemende hoof aangestel word totdat die skoolhoofpos gevul is. Daar is tans `n adjunkhoof en twee departementshoofde, maar die voorsitter verkies `n jong en dinamiese man (posvlak 1) in die personeel. Die beheerliggaam het reeds vergader en steun die voorstel, maar twyfel oor die proses wat die Departement gaan volg.

V= Hoërskool Sydney se skoolhoof bel jou vir advies. Van die skool se ouers is baie ongelukkig oor die nuwe hoofseun wat Vrydag by die prysuitdelingsgeleentheid aangewys is, en het hul geskil na die Departement verwys. Die Departement wil die skoolhoof Donderdag kom spreek, en die hoof soek dringend jou hulp.

V= Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Daar is `n groot aantal opvoeders in diens van die skool, en in hierdie stadium blyk dit nie of daar genoeg geld vir al die bykomende opvoeders sal wees nie. Hy verneem graag hoe hulle die saak moet hanteer.

V= Hoërskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. `n Aantal leerders het Donderdag ná skool `n partytjie by die dorp se dam gaan hou. Die skoolhoof was bewus dat die leerders na die dam sou gaan. `n Video wat daar gemaak is, wys duidelik hoe die leerders dagga rook en drank gebruik. Een van die leerders is die skool se onderhoofmeisie. Wat staan die skool te doen?

V= Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir advies. Hy deel jou mee dat die beheerliggaam gedurende die vakansie `n bosberaad gehou en alle beleid hersien het. Hy het bepaald opdrag ontvang om risiko’s op die skoolterrein te ondersoek, en versoek jou bystand.

V= Laerskool Sydney se voorsitter bel jou vir advies. Hy is bekommerd dat daar nie `n kworum by eerskomende Donderdag se begrotingsvergadering gaan wees nie en dat die beheerliggaam daarom nie enige finansiële verbintenisse sal kan aangaan nie.

V= Hoërskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter bel jou vir dringende advies. Hulle het pas twee poste vir opvoeders op die skool se diensstaat geadverteer, en een van die beheerliggaamlede se lewensmaats het om `n pos aansoek gedoen. Hoe moet die voorsitter die saak hanteer?

V= Laerskool Sydney se beheerliggaamvoorsitter doen navraag oor die skool se snoepwinkel, en vra die volgende: Mag slegs artikel 21-skole 'n onderneming bedryf en ander projekte aanpak ten einde bykomende inkomste vir die skool te verdien?

V= Hoërskool Sydney se hoof bel jou weer baie bekommerd. Hy het pas `n skrywe van sy Onderwyshoof in die provinsie ontvang wat dit duidelik stel dat geen drank op die skoolterrein verkoop mag word nie. Hy noem dat dít enige geleenthede (troues, ensovoorts) insluit, en dat sogenaamde beheerliggaamgeleenthede as skoolaktiwiteite sal tel. Die Departement sal voortaan alle aansoeke om dranklisensies teenstaan, en dissiplinêr teen enige skoolhoof optree wat sy beheerliggaam verkeerd adviseer.

V= Hoërskool Sydney se hoof bel jou baie bekommerd. 'n Departementele amptenaar het hom meegedeel dat die Departement nog nie sy skool se nuwe beheerliggaam bekragtig het nie, en dus dringend vir die name wag sodat hulle `n wettige beheerliggaam kan daarstel. Die hoof deel jou mee dat hulle beheerliggaam al vier vergaderings gehou het en die naweek ook `n strategiese beraad gehad het. Die skoolhoof wil weet of dít beteken dat nie een van hul besluite afdwingbaar is nie.

V= Laerskool Sydney se skoolhoof bel jou baie bekommerd. `n Departementele amptenaar het pas opdrag gegee dat die skool die Departement onmiddellik van `n inventaris van al die skool se roerende bates voorsien, sodat die staat kan vasstel watter van sy bates by die skool is. Die nuwe beheerliggaamvoorsitter weier om hieraan gehoor te gee, en het die skoolhoof opdrag gegee om oor die eienaarskap van roerende bates navraag te doen. Adviseer die beheerliggaam.

V= Hoërskool Sydney ontvang gereeld omsendskrywes van die Departement waarin bepaalde opdragte gegee word. Die voorsitter van die nuwe beheerliggaam wil weet of die Onderwysdepartement deur middel van `n omsendbrief maatreëls kan afkondig en afdwing wat in stryd is met `n wet of met `n regulasie wat kragtens `n wet uitgevaardig is.

V= Hoërskool Sydney se beheerliggaamverkiesing het Vrydag plaasgevind, en die nuwe beheerliggaam vergader eers volgende Donderdag die eerste keer om die ampsdraers te kies. Die skoolhoof wil weet watter beheerliggaam tot Donderdag aanspreeklik is: die ou beheerliggaam of die nuut verkose een?

V= Hoërskool Sydney se beheerliggaamverkiesing vind Vrydag plaas. Daar is 12 opvoeders wat deur die skool aangestel is en 32 opvoeders op die staat se diensstaat. Die skoolhoof is nie seker of die opvoeders wat bykomend tot die staat se diensstaat aangestel is as opvoeders in die beheerliggaam verkies kan word nie. Adviseer die skoolhoof.

V= Volgens die skoolhoof van Hoërskool Sydney gaan dit regtig goed by die skool en is hy in beheer van sake. Jy verneem egter van die voorsitter van die beheerliggaam dat die skoolhoof binne die volgende 12 maande gaan aftree, en dat hy nóú reeds meer tyd aan sy boerdery as aan die skool bestee. Adviseer die voorsitter oor moontlike optrede.

V= Laerskool Sydney se skoolhoof bel jou vir advies. Sy wil graag weet of die graad R-ouers aan die beheerliggaamverkiesing mag deelneem, en hoe die getal kinders in die graad R-klas die getal leerders in haar skool vir doeleindes van die verkiesing sal beïnvloed.

V= Die skool het 'n satellietkleuterskool met voorskoolse kinders van 4 tot 6 jaar. Die graad R-klas is die skool se grootste voedingsbron. Die hoof van die kleuterskool het egter drie kinders uitgewys wat volgende jaar 7 jaar oud word, maar steeds nie skoolgereed is nie. Die laerskoolhoof is bang dat die skool aanspreeklikheid sal opdoen as die kinders nie laerskool toe gaan nie. Adviseer hom.

V= Die skoolhoof van Hoërskool Sydney het die afgelope twee weke gereeld van skole in die nuus gelees. In die lig van die Waterkloofgebeure soek hy klarigheid oor die volgende: 1.Mag `n sportorganiseerder uit skoolgeld betaal word sonder dat hy enigsins by onderrig betrokke is? Let wel: Hierdie organiseerder is by slegs een sportsoort betrokke. 2.Mag personeel `n 10%-kommissie ontvang indien hulle `n groot borgskap bekom? 3. Indien `n onderwyser goedkoop/gratis verblyf op die skoolterrein het, moet dit as `n belastingvoordeel verklaar word? Indien wel, wat is die skool se rol om die belasting te verhaal of aan die Ontvanger van Inkomste te verklaar?

V= Hulle het aan die begin van die jaar twee jong onderwyseresse vir graad R en graad 1 aangestel. Die skool is die werkgewer. Die onderwyseres in die graad 1-klas het pas uitgevind sy is swanger. Hy wil uitvind wat die skool se verpligtinge teenoor die onderwyseres is en wat haar verpligtinge teenoor die skool is.

V= Hoewel die skool steeds vir die Paasvakansie gesluit is, is een van die sekretaresses by die werk. Sy het `n oproep van die Departement van Openbare Werke ontvang om die koshuis oop te sluit sodat van die Departement se werkers vir twee weke daar kan bly. Volgens die Departement is hulle verantwoordelik vir alle staatsgeboue, en kan hulle daarom ook enige staatsgebou gebruik. Die sekretaresse kry nie die skoolhoof in die hande nie en wil by jou weet wat haar nou te doen staan. Adviseer haar en verduidelik presies waar sy die nodige dokumente in die hande kan kry.

V= Laerskool Sydney se skoolhoof wil graag meer inligting bekom oor sy verantwoordelikhede teenoor aanstellings bykomend tot die diensstaat van die staat. Adviseer die hoof met bepaalde verwysing na bronne en presies waar om hierdie bronne op te spoor.

V= Een van die skool se jong onderwyseresse het op pad na die hoof se kantoor op `n los teël gegly en geval. Sy is onmiddellik na haar huisdokter, en die hoof is pas in kennis gestel dat sy haar been gebreek het. Adviseer die skool oor verdere optrede.

V= Een van die administratiewe beamptes by die skool (departementele aanstelling) het teenoor die skoolhoof erken dat sy oor `n tydperk van 12 jaar meer as R200 000 by die skool verduister het. Sy is uitgevang nadat een van die nuwe beheerliggaamlede die skool se geldsake ondersoek het. Die dame is bereid om R1 000 per maand terug te betaal totdat haar seun klaar is met universiteit, waarna sy R2 500 per maand kan afbetaal. Adviseer die skool se beheerliggaam.

V= Laerskool Sydney se skoolhoof bel vir dringende advies. By Donderdag (26/02/2009) se beheerliggaamvergadering is twee lede gekoöpteer in die plek van 'n ouer wie se kind hoërskool toe is en 'n ouer wat by dieselfde vergadering bedank het. Laasgenoemde ouer het bedank omdat die gesin na 'n ander provinsie verhuis. Die skoolhoof deel u mee dat die driejaarlikse beheerliggaamverkiesing vir die provinsie gedurende Mei sal plaasvind. Die beheerliggaam voel 'n tussenverkiesing is onnodig en dat die twee gekoöpteerde lede maar tot Mei moet aanbly. Die skoolhoof noem ook dat hy 'n brief aan die Provinsiale Onderwysdepartement geskryf het om toestemming te vra dat hierdie twee persone tot Mei kan aanbly sonder om 'n tussenverkiesing te hou. Hy het nog geen reaksie van die Departement ontvang nie. Adviseer die skool se beheerliggaam oor die regsposisie en oor die dokumente wat FEDSAS beskikbaar het.

Teken in Dond 23 Februarie 2012
gebruikersnaam wagwoord
Teken in
Klik hier vir meer inligting
 
Lidmaatskap

Word vandag 'n lid van FEDSAS en geniet al ons voordele

doen nou aansoek
Ingang van die laerskool
Nuusbrief
FEDSAS Gauteng Nuusbrief 1-2012...
...
Teken in
Stembus
Moet opvoeders tydens skoolure opleiding ontvang?


FEDSAS Blog
Media
Ouers se besluit sal toek...
Ouers se besluit sal toekoms van SA onderwys bepaal, sê FEDSAS  ‘n GELEENTHEID vir ouer...
lees verder
Hof soek fout op verkeerd...
Hof soek fout op verkeerde plek, sê FEDSAS oor Rivonia-beslissing ‘n Streep deur ouers se on...
lees verder








[HyperLink1]

[HyperLink2]
Tuis     Blaaier  Vrywaring    Privaatheidsbeleid    Inhoudsbestuurstelsel    Webmeester   
© 2012 FEDSAS - Alle regte voorbehou
Chillies