Ouers se besluit sal toekoms van SA onderwys bepaal, sê FEDSAS
‘n GELEENTHEID vir ouers om daadwerklik by hul kinders se onderrig betrokke te raak.
Dit is hoe die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) vanjaar se landwye skoolbeheerliggaamverkiesing beskryf. Die Suid-Afrikaanse Skolewet bepaal dat beheerliggame vir Suid-Afrika se meer as 24 000 openbare skole elke drie jaar verkies word. Getalsgewys is dit die grootste openbare verkiesing in die land aangesien meer as 300 000 lede van beheerliggame verkies sal word.
“FEDSAS was instrumenteel in ‘n belangrike verwikkeling in vanjaar se verkiesing, naamlik dat verkiesings in al nege provinsies vanjaar in dieselfde maand – in Maart – plaasvind. Dit is ‘n belangrike stap nader aan die demokratisering van skoolbeheer en –bestuur,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.
Colditz sê dit is belangrik dat hierdie verkiesing nie oorgeneem word deur politieke of ander agendas nie. “Hier is nou ‘n geleentheid vir alle belanghebbendes om saam te werk om gehalte-onderrig vir ons kinders te verseker. Beheerliggaamlede mag nie vergoeding ontvang nie, so die belang van die kinders moet die enigste oorweging wees.”
Volgens FEDSAS word ‘n stempersentasie van 15% van ouers vir ‘n geldige verkiesing vereis. “Dit is tragies om te dink dat duisende skole in die verlede nie eens ‘n stempersentasie van 15% behaal het nie. Dit help nie ouers kla oor die onderwysstelsel as hulle nie self geleenthede aangryp om ‘n verskil te maak nie,” sê Colditz.
Om bewustheid rondom die verkiesing te skep en te verseker dat kundige, toegewyde beheerliggame verkies word, het FEDSAS die volgende strategie bekend gestel:
1. Die Nasionale Riglyne vir Beheerliggaamverkiesings en ander elektroniese inligting oor die verkiesingsprosedure sal op FEDSAS se webwerf, www.fedsas.org.za, beskikbaar wees;
2. Elektroniese inligting sal gratis aan die media en alle belanghebbendes beskikbaar gestel word;
3. ‘n Reeks gesprekke oor die verkiesing en die belangrikheid van ouerdeelname sal aan gemeenskapsradiostasies voorsien word vir uitsending;
4 Alle FEDSAS-ledeskole sal inligting ontvang wat in skole se nuusbriewe gepubliseer kan word;
5. Al FEDSAS se provinsiale personeel is beskikbaar vir media-onderhoude om toe te sien dat die boodskap alle uithoeke van die land bereik; en
6. Onderwysvennote van FEDSAS, asook kerke, kultuur- en ander gemeenskapsorganisasies sal versoek word om hul lede aan te moedig tot deelname.
Hoewel ‘n deursigtige en verteenwoordigende verkiesingsproses belangrik is, is deurlopende ondersteuning aan beheerliggame ná die verkiesing ook noodsaaklik. Daarom gaan FEDSAS ná die verkiesing sowat 70 oriënteringsessies vir nuutverkose beheerliggame oor Suid-Afrika heen aanbied. Beheerliggame wat hierdie geleenthede wil bywoon, kan die provinsiale bestuurder van die betrokke provinsie kontak. Alle kontakbesonderhede, asook bykomende inligting is op die webwerf beskikbaar.
“Suid-Afrikaanse onderwys is by ‘n keerpunt; hierdie verkiesing gaan ‘n waterskeiding wees wat sal bepaal hoe die toekoms van onderwys in ons land hom gaan uitspeel. Die belangrikheid van hierdie beheerliggaamverkiesing kan eenvoudig nie oorbeklemtoon word nie, en FEDSAS sal uit sy pad gaan om toe te sien dat dit so deursigtig en regverdig moontlik geskied,” sê Colditz.
(Fedsas is ‘n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Sowat 1300 openbare skole is reeds lid van Fedsas.)
Vir verdere navrae rakende die inligting in hierdie mediaverklaring, tree asb. In verbinding met:
Mnr. Paul Colditz (uitvoerende hoof: FEDSAS)
082 414 5359
Dr. Jaco Deacon (adjunkhoof: FEDSAS)
083 795 2928