U is nie ingeteken nie  [Teken in]  [Doen aansoek]

Mediaverklarings

 Terug
Die sukses van die onderwysstelsel berus op vertroue, sê FEDSAS oor skokvideo by kleuterskool
05/04/2019 - FEDSAS
’n Skokkende video waarin gesien kan word hoe ’n volwasse vrou klaarblyklik ’n kleuter by ’n kleuterskool in Carletonville in Gauteng aanrand, verteenwoordig alles wat met die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel verkeerd is.
           
“’n Baie groot gedeelte van die onderwysstelsel berus op vertroue. Of dit nou ’n kleuterskool of ’n openbare skool is, ouers het geen ander keuse nie as om diegene te vertrou in wie se sorg hul kinders vir ’n groot gedeelte van die dag gelaat word,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Colditz sê FEDSAS verwelkom die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Gauteng se besliste optrede. Die onderwyseres is reeds in hegtenis geneem en die kleuterskool word gesluit.

“Sulke voorvalle rig egter onberekenbare skade aan die beeld van onderwys aan. In die oë van die publiek is onderwys ’n geheel – van vroeë kinderontwikkeling tot tersiêre onderrig. En so ’n siening is eintlik in die kol, want álle rolspelers op ’n kind se opvoedkundige pad maak ’n bydrae tot sy of haar sukses.”

Colditz sê FEDSAS se siening is dat daar geen swak skakel in die onderwysketting kan wees nie. “Suid-Afrika het ’n ernstige probleem met geweld en kinders wat geweld aan die hand van gesagsfigure ervaar, sal altyd sukkel om ander persone in so ’n posisie te vertrou. Dit lei uiteindelik tot dissiplinêre probleme wanneer formele onderrig begin. So ’n voorval lig ook weer die belangrikheid van die noue betrokkenheid van ouers by die skoolstelsel uit. Beheerliggame in die geval van formele onderrig en selfs die oorsigrol van die verskeie staatsdepartemente wat op een of ander wyse by onderwys betrokke is, is van onskatbare waarde.

“’n Algehele vertrouensbreuk tussen ouers en opvoeders sal die wiele van die onderwysstelsel tot stilstand laat knars. Vertroue kan egter nie deur wetgewing afgedwing word nie. Die enigste oplossing is beter en meer gereelde opleiding vir alle rolspelers in onderwys. FEDSAS se fokus is byvoorbeeld op beheerliggame en ouerbetrokkenheid terwyl ander organisasies weer op ander aspekte en rolspelers fokus. Dit bly egter ’n spanpoging.”