Artikel

FEDSAS maak stem dik oor Gauteng se e-platform vir skooltoelatings

15/04/2016 - Fedsas


Die elektroniese platform wat deur die Gauteng-onderwysdepartement gebruik word om leerders te registreer, is flagrante magsmisbruik wat nie deur die wet toegelaat word nie. Die e-platform in sy huidige formaat benadeel meer as 300 000 leerders en voornemende leerders in hierdie provinsie.

"Nie alleen voldoen die e-platform nie aan wetgewing nie, maar dit is boonop nie funksioneel nie. Die feit dat daar geen gelyklopende papiergebaseerde alternatief is nie, beteken dat duisende ouers nie hul kinders betyds vir die skool van hul keuse sal kan inskryf nie. Ouers sonder internettoegang word ook ooglopend deur die stelsel benadeel,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Die probleme inherent aan die e-platform is verlede jaar uitgewys, maar geen noemenswaardige veranderinge is aangebring nie. “FEDSAS is nie teen die gebruik van ’n elektroniese stelsel nie, maar wel teen die e-platform in sy huidige formaat. Gesprekke met amptenare van die Gautengse departement van onderwys om hulle van die onwerkbaarheid van die stelsel te probeer oortuig, was onsuksesvol. Versoeke om met die LUR vir onderwys in Gauteng, mnr. Panyaza Lesufi, hieroor te praat, val ook op dowe ore,” sê Colditz.
           
Ten einde ’n grootskaalse onderwyskrisis te vermy, het FEDSAS sy prokureurs opdrag gegee om ’n aanmaning aan die departement te stuur. “FEDSAS eis dat die stelsel onmiddellik geskrap word. Alternatiewelik moet die LUR ’n waarborg kan gee dat die stelsel teen Maandag, 18 April 2016, funksioneel sal wees, asook sal voldoen aan alle wetlike vereistes. Indien nie, sal FEDSAS sy prokureurs opdrag gee om die hof te nader om seker te maak dat ’n onwettige, wanfunksionele toelatingstelsel nie geïmplementeer word nie.”
           
“FEDSAS het werklik uit sy pad gegaan met aanbiedinge van hulp om die departement te ondersteun in die ontwikkeling van ’n effektiewe elektroniese stelsel. Die departement en die LUR het egter alle kommunikasie van FEDSAS geïgnoreer en voortgegaan met ’n duidelik gebrekkige stelsel,” sê Colditz. Klagtes van ouers stroom in en sluit onder meer in dat die e-platform nie voorsiening maak vir ’n keuse van taalvoorkeur nie. “Die bepalings van die Skolewet en skoolbeheerliggame se beleid word nie in ag geneem nie. Die feit dat daar nie ’n gelyklopende papiergebaseerde proses is nie, beteken dat daar geen manier is om inligting te verifieer nie. Ouers wie se elektroniese toelatingsaansoeke dus weens tegniese probleme nie ontvang is nie, het geen manier om te bewys dat hul wel deur die proses gegaan het nie.”
           
Daar is rede tot kommer oor onderwys in Gauteng. FEDSAS wil opnuut beklemtoon dat die organisasie verbind is tot gehalte-onderrig en bereid is om met alle rolspelers saam te werk om hierdie doel te bereik. “Ons sal egter nie huiwer om op te tree in gevalle waar die regte van kinders sonder skroom deur amptenare geskend word nie.”

Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid