Artikel

FEDSAS se Paul Colditz tree af

01/06/2021 - Fedsas


FEDSAS se Paul Colditz tree af. Suid-Afrikaanse onderwys is soveel ryker te danke aan die enorme bydrae van 'n gerekende rolspeler soos mnr. Paul Colditz, die uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), wat aan die einde van Oktober vanjaar aftree.

“Paul se invloed en bydrae sal nog lank in onderwyskringe gevoel word. Hoe FEDSAS vandag funksioneer as betroubare en gerespekteerde onderwysvennoot is grootliks te danke aan Paul se visie, insig en handewerk,” sê dr. Shaun Mellors, voorsitter van FEDSAS se Nasionale Raad. Colditz tree aan die einde van Oktober 2021 af ná 14 jaar as uitvoerende hoof van FEDSAS. Hy sal egter vanaf 1 Junie 2021 in 'n ander hoedanigheid betrokke wees om die oorgang van leierskap binne FEDSAS glad te laat verloop. Die huidige adjunkhoof, dr. Jaco Deacon, sal vanaf 1 Junie 2021 vir 'n tydperk van vyf maande as uitvoerende hoof waarneem voordat hy op 1 November 2021 permanent die leisels oorneem.

“Met Jaco as waarnemende hoof gee dit aan die Nasionale Raad genoeg tyd om die oorgangsproses te bestuur sodat FEDSAS se aktiwiteite en dienste sonder onderbreking kan voortgaan,” sê Mellors. 

Met Colditz aan die stuur, het FEDSAS gegroei tot 'n organisasie waarby die beheerliggame van meer as 2000 openbare skole, in al nege provinsies, as lede aangesluit het. “Ons is veral ook trots op ons bande met ander onderwysrolspelers, insluitend die nasionale Departement van Basiese Onderwys. Onder Paul se leierskap is FEDSAS gevestig as die leier in skoolbeheer en –bestuur met nie net plaaslike nie, maar ook internasionale erkenning vir die werk wat die organisasie doen,” sê Mellors.

Mellors sê Colditz se uitstekende opvolgbeplanning lê ook die grondslag vir 'n seepgladde oorgangsproses. “Al FEDSAS se personeellede deel dieselfde visie, naamlik die bevordering van gehalte- en waardegedrewe onderwys, en elkeen verstaan ook hul rol in die verwesenliking van hierdie visie. In Jaco het FEDSAS 'n leier met dieselfde dinamiese visie, wat beteken FEDSAS-lede en die groter onderwyssektor kan steeds dieselfde uitnemendheid van die organisasie verwag.”

“Paul se aftrede laat uiteraard 'n groot leemte, maar die feit dat FEDSAS se werksaamhede soomloos en onverstoord sal voortgaan is waarskynlik die beste getuigskrif van sy uitsonderlike leierskap,” sê Mellors. 

FEDSAS sal tydens die organisasie se Algemene Jaarvergadering aan die einde van hierdie jaar op gepaste wyse afskeid neem van Colditz.

Copyright FEDSAS 2026 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid