‘Nou is dit tyd om te wys waartoe basiese onderwys in staat is,’ sê FEDSAS oor matriekeksamen
20/10/2016 - Fedsas
Die onderwyssektor in Suid-Afrika is lanklaas deur soveel krisisse in die gesig gestaar. Dit is maklik om in die lig van die protesaksies vir gratis hoër onderwys te vergeet van al die struikelblokke wat rolspelers in basiese onderwys moet oorkom ten einde gehalte-onderrig vir alle kinders in Suid-Afrika te verseker.
Te midde van hierdie uitdagings is dit eersdaags tyd vir derduisende matrikulante om die matriekeksamen aan te pak. “In tye van verandering en onsekerheid is dit belangriker as ooit om elke skakel in die onderwysketting so sterk moontlik te maak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
FEDSAS se wens vir die matriekeksamen is dus ’n opbouende omgewing waarin matrieks die ondersteuning sal kry wat nodig is om uit te blink. “Dit is alle onderwysrolspelers se plig om dit moontlik te maak vir matrieks om sukses te behaal. Van onderwysers wat help met voorbereiding tot amptenare wat die proses moet bestuur, asook ouers, voogde en die breër gemeenskap.”
Deacon sê vir derduisende matrieks bied ’n matrieksertifikaat die geleentheid om uit te styg bo dikwels uitdagende sosio-ekonomiese omstandighede. “As die veranderinge in hoër onderwys boonop in ag geneem word, gaan goeie, betroubare matriekuitslae al meer deurslaggewend word. Dit is dus in landsbelang dat die matriekeksamen op ’n professionele, deursigtige en verantwoordbare wyse bestuur word sodat die proses bo verdenking is.”
FEDSAS wens almal wat op een of ander wyse betrokke is by die matriekeksamen sterkte toe. “Die matriekeksamen is die Olimpiese Spele van basiese onderwys – dit is hier waar ons moet bewys lewer van al die voorafgaande jare se harde werk. FEDSAS is verbind daartoe om te doen wat moontlik is om van hierdie belangrike geleentheid ’n sukses te maak.”