10/09/2024 - Fedsas
Bekwame onderwysers in klaskamers is die belangrikste skakel in die onderwysketting. Ten spyte hiervan is daar jaar ná jaar probleme met die publikasie van vakaturelyste en die behoorlike advertering van poste in feitlik al die provinsies.
“Vir ’n onderwyspos om gevul te word, is daar verskeie prosesse wat moet plaasvind, maar niks kan gebeur sonder dat provinsiale vakaturelyste gepubliseer word en poste geadverteer word nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).
’n Onregmatige praktyk wat in talle provinsies plaasvind, is dat posvlak 1-posisies nie geadverteer word nie. “Posvlak 1 is die intree-vlak vir onderwysers. Kragtens die Wet op die Indiensneming van Opvoeders se Personeel Administrasie-maatreëls (PAM) is dit verpligtend om hierdie poste saam met bevorderingsposte te adverteer. Tog is dit slegs die Wes-Kaapse onderwysdepartement wat gereeld posvlak 1-poste adverteer.”
Deacon sê wanneer hierdie poste nie behoorlik geadverteer word nie, skep dit geleentheid vir misbruik en manipulasie. “Een daarvan is die misbruik van tydelike aanstellings. Die proses ‘sloer’ dan sodat die tydelike aanstelling uiteindelik permanent word sonder dat deeglike onderhoude gevoer is. Dit laat vrae ontstaan oor die regverdigheid en deursigtigheid van die aanstellingsproses.”
Selfs waar prosesse behoorlik gevolg word, lei provinsies se gesloer daartoe dat personeel soms moet waarneem in ’n hoër posvlak, dikwels sonder vergoeding. Of daar is vakatures in poste waarop die skool geregtig is as deel van die postevoorsiening maar administratiewe rompslomp, en dikwels onbeholpenheid, veroorsaak dat daar nie eens tydelike opvoeders in daardie poste is nie.”
Deacon sê FEDSAS neem met kommer kennis van die moontlike sny van poste in sommige provinsies. “In sulke gevalle moet daardie opvoeders botallig verklaar word. Hulle moet dan aansoek doen vir beskikbare poste by ander skole. Wanneer poste nie geadverteer word nie, weet hierdie opvoeders nie van nuwe geleenthede nie. Dieselfde geld vir jong onderwysers – waar moet hulle aansoek doen om werk te kry as daar nie poste geadverteer word nie?”
Deacon sê die uitgediende formaat van die proses dra by tot vertragings. “FEDSAS wil sien dat poste onmiddellik elektronies geadverteer word en dadelik gevul word sonder dat daar telkens vir een of twee vakaturelyste gewag moet word.”
FEDSAS vra dat die Minister van Basiese Onderwys moet toesien dat provinsies voldoen aan die bepalings van gereelde advertensies en dat poste vinnig gevul word. “Suid-Afrika het reeds ’n groot tekort aan onderwysers. Ons kan nie bekostig dat die poste wat wel beskikbaar is, nie betyds en behoorlik gevul word nie.”